Ek is Gereformeerd


Vanoggend is een van daardie oggende in my lewe, wat oorgegaan het tot in ‘n diep bepeinsing van dinge, en selfs ‘n bepeinsing van my gedagtes. Ek sien ek het baie lanklaas iets op hierdie kubberruim van my geplak, of neergesit vir verdere vertering en kognitiewe nadenke. My gedagtes op die oomblik is regtig van so ‘n aard dat ek voel dat daar ‘n inligtingsgedagtegebeurtenisaneksasie plaasvind. Om so iets te verwerk dink ek ‘n mens moet maar op ‘n punt begin en gedagte vir gedagte deurwerk.

Gedagtebedinkding 1 – Het gewigt

Die weke wat verby is het ek regtig werk gemaak daarvan om gereeld by die gimnasium uit te kom en te oefen. Ek het my egter nie geweeg nie, meskien is ek te bang vir die skaal...... Ek werk egter nog daaraan en sal een of ander tyd die ou apparaatjie aandurf.

Gedagtebedinkding 2 - Oor Sonja

Ek het nie kinders van my eie nie [nie waarvan ek bewus is nie J] maar my broer het 3 sprankel kinders. Ruben, Marie en die heel nuutste toevoeging Sonja. Die outjie was laas week baie erenstig siek in die hospitaal, en dit was traumaties vir die hele gesin vir my ook. ‘n Virale infeksie het haar lugwëe aangetas in so ‘n mate dat sy ‘n suurstoftekort in haar bloed gehad het. Dit was erenstig. Ons het hard gebid en die onverklaarbare Genade van die Here was regtig teenwoordig. ‘n Mens kon dit amper in jou are voel. My oë dam reeds op as ek dit tik. Dankie Here dat u daar is waar u kinders hulle hulp vandaan vra, nie na die berge nie maar na geloof en hoop in die Hart en die grootse hiervan is die Liefde wat U aan ons bewys. Sy is intussen tuis, en sterk baie goed aan. Sy is so-te-sê gesond. Ek bid dat hierdie gebeurtenis tog sal help dat my broer hulle nader aan die Here beweeg en hulle Hom opreg sal ontmoet. Dankie Here dat ek dit van U af kan vra.

Gedagtebedinkding 3 – Ek is gereformeerd

Sondag oggend 15 Februarie 2009 is ‘n preek gelewer in ons gemeente wat my as mens genoop het tot normatiewe nadenke. Die preek is gelewer deur Ds Gerrit Snyman van die Evangeliese Gereformeerde kerk. Ek moet egter eers agtergrond gee oor sy betrokkenheid by ons gemeente. Sedert die einde 2007 is is ‘n gemeenskapsorganisasie genaamd: Maranatha Bana (Die Here kom) “langs” ons gemeente ‘n sentrum gestig. Die organisasie het die verskeie projekte onder hulle vlerk geneem in deels en in samewerking met ons gemeente. Ons gemeente is die bedieningsgemeente vir baie kinders wat in ‘n tuiste in die straat oorkant ons gemeente is. Gaan kyk gerus by (http://www.maranathabana.org/Default.aspx) . Party sondae aande en ook oggende word gemeenskapserediense by ons gemeente aangebied, en sommige van die dienste word gelei deur Ds Gerrit Snyman wat ‘n gekwalifiseerde trauma en gesinsberader is. Dit is vir my wonderlik om te sien hoe mense van alle fasette en van alle agtergronde met dienste na ons gemeente toe kom vir eredienste. Ds Gerrit en sy vrou is ook aktief betrokke by die jeug van die gemeente saam met ‘n bekwame span werkers. (Gaan kyk gerus op die bogenoemde skakel) Ek sien Ds Gerrit as ‘n Evangelisasieprediker, wat totaal daarop uit is om siele vir Gods koninkryk te wen. Baie van sy diense is dan juis van so ‘n aard dat mense opnuut gekonfronteer word met hulle saligheid en hulle verhouding met die Here.

Hy het egter op die 14de Februarie ‘n preek gelewer wat my na die tyd, na my eie karakter en wese laat soek het. Ek wil uit die staanspoor dit duidelik stel dat die boodskap se inhoud Teologies 100% korrek was. Hierdie gedagtes gaan nie oor die preek nie, nee dit gaan eerder oor sekere dinge wat te doen het met my denke en sekere dinge wat te doen het met hoe ek opgevoed is. Laat ek verduidelik:

My gereformeerde agtergrond het ek te danke aan beide my grootouers en in ‘n mate my ouers. My ouma en oupa Buitendag was aktiewe kinders van die Here in hulle gemeente NG Hartbeeshoek waarin ek ook gedoop is. My ander ouma en oupa Kruger was lede van die Gereformeerde kerk. Ek het as klein seuntjie in beide kerke “grootgeword” maar is in die NG kerk gekatkiseer. As kind het ek my “lering” by beide kerke ontvang. Ek het tot vandag toe as mens ‘n diep respek en waardering vir die lering in die Gereformeerde kerk. Ek het respek en ontsag vir die manier waarop hulle die Woord hanteer, en preek (oor wat hulle glo oor eredienssan g.... wel.... dit is iets vir ‘n ander gedagtegeleentheid). Ek het nie meer aldag respek vir die dinge wat kwytgeraak word deur van die NG Kerk teoloë en predikante nie. Baie van die teoloë se liefde vir hulle self en die opinie van mense sal hulle nog eendag duur te staan kom. Ek is egter steeds nog in ons gemeente NG Onderstepoort ‘n lidmaat omdat ek van die opinie is dat ons gemeente uniek is in sy omstandighede en dat die Woord nog suiwer verkondig word. Om terug te keer na my lering en die oorhoofste stelling en draad van hierdie gedagtebedinkding. Ek het baie van God en Christenskap geleer van my Ouma Anna Buitendag. Die Here het werklik toegelaat dat daardie merkwaardige vrou ‘n onbeskryfbare rol sou speel in my lewe wat ek net innig en opreg dankbaar voor kan wees. Wat ek aan haar knie geleer het kan net iemand verstaan wat self die Here deur ‘n ouma of ma leer ken het. Dit is nie regtig beskryfbaar in woorde nie. Sy en my oupa Gielie het my aan huisgodsdiens blootgestel. En na my oupa en my ma se dood (in die selfde jaar) het sy een van die grootste invloede op my lewe gehad, ek wil dit weereens stel... Ek kan dit nie omwoord nie.

Wat ek by my ouma Anna geleer het, en waaraan sy my blootgestel het en hoe het sy my beinvloed en gevorm het; gaan ek onder probeer uiteensit. Daar is baie dinge en ek gaan dit sommer so puntsgewys lys. (nie in enige rangvolgorde nie, en dalk laat ek iets uit)

· Opregte diepe gebed, om vir minute wat soos ure kon vol te sit en bid en werklik vir haar familie in die bres te tree by ons Hemelse vader, was een van haar daaglikse take. Nee nie ‘n aframmeling van ‘n uitgeloopte gedig nie, maar ‘n opregte komunikasie met haar Skepper. Ek het geleer hoe om God aan te spreek, hoe om danksegging te betuig, hoe om vergifnis te vra en hoe om dan te glo in dit wat jy gebid het. Want ons sê mos gelowig Amen. Male sonder tal het ek my oë tydens een van haar gebede oopgemaak en dan gesien hoe sy haar seer knië vryf.

· Waardering vir die Bybel, en die lees daarvan. Daar was ‘n keer in my lewe wat ek werklik as kind afgedwaal het. Ander ouers sou hulle kinders slaan of selfs “ge-ignoreer of verwerp het” nie sy nie. Neé sy het met geduld, deernis en my met die Bybel na die regte pad laat verander en vir my daarvoor gebid. Vir daardie dag is ek tot nou toe dankbaar.

· Waardering vir kerkmusiek. My ouma het soos ek kan onthou ‘n besonderse stem gehad (iets tussen die van ‘n sopraan en ‘n alt) dit was werklik mooi. Gereeld het ons saam gesing en het sy my baie Psalms, Gesange, en ander besonderse liedere geleer. As ‘n klein kind het ek baie baie baie meer Halleluja liedere geken as die meeste van my maats saam. Ons het toe ons nog in die ‘Plotwyk’ was gereeld elke tweede vrydag aand gaan lofsing by ‘n ander lidmaat se huis. Daar was sommer ‘n klomp mense wat verskeie instrumente gespeel het elke keer, en boenbehalwe al die bekende liedere wat ons daar gesing het het ek ook bloodstelling ontvang aan meer ’Charismatiese’ liedere. Elke tweede vrydagaand was ‘n LOFSANGFEES!! Sonder pretensies, sonder dogma en werklik uit die hart uit. Daar is selfs ook soms hande geklap tydens een of twee liedere wat dit amper vereis het. (Natuurlik het nie almal nie maar dit was nogsteeds snaaks vir ‘n klomp NG mense in die laat 80ger jare) Maar dit was opreg, en met diepe eerbied.

· Radiokansel. Die stasie met die goeie nuus. Ek wil amper se dat ek glo (tong in die kies) dat my ouma hulle een van die stigterslede was. Daar was nie ‘n oggend wat haar draadloos nie op radiokansel was nie. Dit was vakansietye en saterdae ‘n fees vir my om daarna saam met haar te luister. Oom Karolus en Lente is nogsteeds daar en ek dink Lente is nou sal vir die afgelope 20+ jaar net 5 jaar oud. J By radiokansel het ek in die ‘beginjare’ bloodstelling gekry aan predikers soos Prof. Kolie Kotze (wat toe al oorlede was),Dr Willie Marais en Ds Danie Steyn. (Ai wat ‘n jammerte dat die NG Kerk myns insiens nie meer sulke mense het nie) Ds Willie en Ds Danie het ‘n groot invloed op my lewe gehad. Ek is tans besig om radiokansel se agrief leeg te koop met al hulle preke. Juis omdat dit so diep is, en dat ek baie van my lering aangaande Gods woord uit die preke ontvang. (Die meeste NG Predikante preek deesdae nie meer so nie). Ek het ook gereeld toe radiokansel nog uitgesaai het op FM2000 geluister na boodskappe as ek in die oggend vroeg by die werk is of na die werk toe gery het. Radiokansel se stem het deesdae stiller geword.... (En ek wonder soms of die gebeure daar, nie dalk ‘n waarskuwing is van die Here af aan hulle aangaande hulle huidige programinhoud nie, ek oordeel nie ek voel net soms so) Dit is kenmerkend van die tye dat Radiokansel se slagspreuk verander het van: Die stasie met die goeie nuus, na: “Jou reisgenoot in die soeke na sinvolheid” (Minder Evangelie, meer wêreld, meer mens.... So voel dit vir my in elk geval) In latere jare het ek ook bloodstelling gekry aan mense soos Dr John McArthur. Ek het vir die prediker uit Amerika ongelooflike gesag. Sy liefde vir die woord en die opregte bediening uitleg en verkondiging daarvan stel ek hoog op prys. Meer predikante kan sy voorbeeld volg. Kyk by (http://www.gty.org.za/ [en] http://www.gracechurch.org/home/)

So in repliek op sommige stellings (beide direk maar meestel indirek) van die preek van 14 Februarie 2009. MOET EK SÊ: Ek is gereformeerd, ek is so grootgemaak en dit is deel van my wese, deel van my normatiewe ontwikkeling en wat ek is en wil wees. NEE om so te wees neem my NIE Hemel toe nie, NEE dit maak my ook glad nie salig nie, maar dit gee aan my karakter. Dit be-invloed wat ek dink en wat ek glo. Dit verklaar dus in ‘n mate en speel ‘n rol hoe ek my Christenskap uitleef en dit is vir my belangrik. Dit verklaar en gee verder vir my sin waarom ek stel dat ek gereformeerd is, waarom ek saamstem met die drie formuliere van eenheid, waarom ek verby baie ander kerke ry sondae oggende om te kan sê, ek is ‘n lidmaat van NG Onderstepoort. Dit verklaar ook waarom ek die twaalf artikels opsê, as ek vir myself en ander bevestig waarin ek glo. Omdat ek dus gereformeerd is hou ek van ‘n sekere styl van aanbiding, verkies ek dit om ‘n erediens te sien as ‘n diepe ontmoeting met God, in dankbaarheid wat ordelik geskied. Dit is die ruimte waarin ek voel ek bes geestelik funsioneer. My gereformeerde agtergrond help my om die volgende allerbelangrikste vraag te kan beantwoord, een van die Here Jesus self toe hy gevra het? Wie sê julle is Ek? (Matteus 16:15) Die rots waarop Jesus sy kerk bou, is die geloof dat Hy die Christus is! Gedurig word hierdie fondament ondergrawe.

Ken kan soos baie ander gerformeerdes danbaar antwoord: U is die Christus die Seun van die lewende God. By U alleen is daar redding te vinde vir 'n arme ellendige sondaar (soos ek). Op hierdie belydenis (rots) bou Christus sy kerk, en die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie!

(Gereformeerde Kerk Centurion)

Liewe Dominees; Dit is goed om Evangelies gerig te wees! Inteendeel - Dit is Christus se opdrag! Dit is goed en uiters noodsaaklik om vir elke onbekende lidmaat tydens die erediens te konfronteer, direk of indirek met sy / haar saligheid!

‘n Erediens moet altyd so ingestel wees dat, iemand wat dalk in die kerkbank sit, die eerstekeer of dalk die laaste keer die evangelie se blye boodskap hoor.

Daarom liewe Dominees, hou asseblief so aan! Hou aan siele wen! Meer predikante moet die voorbeeld volg en die erns daarvan raaksien.

Mag ek groot asseblief, met vrymoedigheid vra, dat hierdie karaktereienskap van my ook erken word, en nie afgebreek word of as iets totaal verkeerds is nie. My redding berus nie daarop nie maar my karakter wel.

Gedagtebedinkding 4 – Komende Sondag 8 Maart

Die Here is goed vir my, in baie opsigte. Een van die opsigte is die dat Hy my toelaat om so een of twee maal per semester ‘n boodskap en getuienis met die ander lidmate in ons gemeente te deel. Dit is meestal vir die Jeug gerrig Vir hierdie getuienis voorreg is ek baie, en innig dankbaar, en die verantwoordelikheid is groot, baie baie groot.

Ek beoog om die komende sondag aand oor die Eskatelogie te praat met van die jongmense en hulle ouers in die gemeente. Dit is ‘n moeilike onderwerp vir my, maar is in die selfde asem ene wat vereis dat ek dieper studie doen, oplees nogmals oplees en regtig afhanklik die Here se leiding vra. Die boodskap wat ek gaan lewer is gebaseer op inligting uit verskeie boeke deur outeurs soos: Dr Willie Marais, Prof GBA Gerdener, Prof PJ de Bruyn. Dan gaan ek ook van drie preke gebruik maak. Die een het ek oor gepraat in ‘n vorige ‘blog’gedagtebeplakking nl: Kinders in die Hand van ‘n Toornige God deur J Edwards. Die ander twee preke is een van Dr Willie Marais: Die Lewe anderkant die Graf en ‘n derde van Dr John McArthur, what the Bible says about Hell.

Ek sal dit dus opreg waardeer indien jy vir my vir komende sondag sal bid.

Hierdie is die langste blogbeplakking nog. Ek hoop jy het iets meer wys geraak van my. Dit was vir my lekker om dit te tik, omdat dit my tot denke toe geforseer het. Los gerus kommentaar.

Tot volgende keer.

Arrie Warrie

Bertie

Comments

Popular posts from this blog

Brief aan 'n vriend

Here dankie vir my vrou!

Maak 'n PATATROL. Aanbeveel deur die Hartstigting en Orgaanskenkersvereniging, 'n Weighless Top Ledewerwer!