AS DIE BOEKE OOPGEMAAK WORD


Hieronder is die boodskap wat die Here my toegelaat het om die afgelope sondag aand te bring aan ons gemeente. Dit is my gebed, dat die Here jou ook net so sal seen deur die lees daarvan as wat hy my gehelp het om die inhoud na te vors.


As die Boeke oopgemaak word: 'n Beknopte studie in die Gereformeerde Eskatelogieleer

Skriflesing:

Luk 12: 1 – 10
Luk 12:1-10 Die mense het intussen by die duisende saamgedrom en mekaar vertrap. Toe het Jesus begin praat en Hom in die eerste plek tot sy dissipels gerig: "Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary. (2) Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. (3) Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word." (4) "Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. (5) Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees. (6) "Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. (7) Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies." (8) "Ek sê vir julle: Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook openlik uitspreek voor die engele van God. (9) Maar hy wat My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word. (10) "Elkeen wat teen die Seun van die mens iets sê, kan vergewe word; maar hy wat teen die Heilige Gees laster, kan nie vergewe word nie.

Luk 16:19 – 31
Luk 16:19-31 "Daar was ‘n ryk man wat duur en deftige klere gedra en elke dag feestelik en weelderig geleef het. (20) (16:20-16:21) En daar was ‘n arm man met die naam Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy was oortrek van die swere en selfs die honde het daaraan kom lek. (21) 21 (22) "Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. (23) Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: (24) ‘Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.’ (25) Maar Abraham sê: ‘My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. (26) En buitendien is daar ‘n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.’ (27) Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe. (28) Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ (29) Maar Abraham sê: ‘Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’ (30) Hy antwoord egter: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.’ (31) Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan."

Op 20: 1 – 15
Opn 20:1-15 Toe het ek ‘n engel uit die hemel uit sien kom met die sleutel van die onderaardse diepte en met ‘n groot ketting in sy hand. (2) Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind. (3) Hy het hom in die onderaardse diepte gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ‘n klein rukkie losgelaat word. (4) Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree. Dit is hulle wat nie die dier en sy beeld aanbid het nie en nie die merk op die voorkop en op die hand aanvaar het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank geregeer. (5) Dit is die eerste opstanding. Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie. (6) Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer. (7) Wanneer die duisend jaar om is, sal die Satan uit sy gevangenskap losgelaat word. (8) Dan sal hy gaan om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is, die Gog en Magog, te verlei, en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Hulle is so baie soos die sand van die see. (9) Hulle het oor die hele oppervlakte van die aarde aangekom en die laer van die gelowiges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer. (10) Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die dier en die vals profeet ook is. Hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. (11) Toe het ek ‘n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie. (12) Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ‘n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. (13) Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. (14) Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. (15) As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

Ek gaan later weer na die drie tekse en ander verwys.

Geseënd is die wat na Gods woord luister en dit ter harte neem.

Ek het eenkeer per geleentheid voor hierdie kansel in 1994 belydenis van geloof af gelê. Een van die dinge wat ek daardie aand gestel het is dat ek glo in die 3 formuliere van eenheid. Wat insluit die Heidelbergse Katagismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dortse Leerreels.
Hierdie 3 formuliere van eenheid word algemeen aanvaar deur al die gereformeerd geoorienteerde kerkgenootskappe.

Daarom hou ek vanaand as deel van hierdie boodskap en in aansluiting daarvan Nederlandse Geloofsbeleidenis Artikel 37 ook aan u voor:

Nederlanse Geloofsbelydenis - Artikel 37
Die laaste oordeel, die opstanding en die ewige lewe

Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het - dié tyd is vir alle skepsels onbekend - en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het (Hand. 1:11), om Homself as Regter oor die lewendes en dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn (1 Tess. 4:16). Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met sy liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog sal lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in 'n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word (Op. 20:12) volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg (2 Kor. 5:10). Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het (Matt. 12:36), al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word.

Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matt. 25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Matt. 10:32), en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Op. 21:4). Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as 'n beloning uit genade sal die Here self hulle so 'n heerlikheid gee as wat die hart van 'n mens nooit kon bedink nie.

Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.

AMEN



Hierdie drie teksgedeeltes, asook NGB Art 37 raak aan ‘n teologiese onderwerp wat bekend staan as die Eskatelogie.

Eskatelogie: Is die studie van die eindtyd. Die oorhoofse gedeelte van die boek Openbaring handel daaroor, asook van die tekste wat ek vanaand voorgelees het. Ps 110 is volgends die kenners ook ‘n voorbeeld van ‘n outestamentiese eskatologiese verwysingsteks.

As ek dus wil begin om ‘n boodskap te bring aangaande hierdie gedeeltes wil ek tog oor elkeen van hierdie teksgedeeltes met u ‘n paar gedagtes deel:

Eerstens die gedeelte in Lukas 12.

In hierdie gedeelte kry ons mense wat in ‘n groot skare saamdrom om na Jesus te luister, vers 1 (hoofstuk 12) se dat die mense mekaar eintlik vertrap het. U ken van vertrapping, ja meskien nie ‘n ‘n kerk geleentheid nie, maar dalk by ‘n sportbyeenokoms.

Ons moet afvra, wat was Jesus se boodskap aan hierdie groot skare?
Wat het Jesus gesien as die allernoodsaaklikste boodskap?
Wat was Sy Tema?
Ons moet in ag neem dat hierdie ook een van Jesus se laaste boodskappe was.

Wie was die teikengroep? Sy teikengroep was die alledaagse mense, die met gewone werke, of dalk die daarsonder, maar sy teikengroep was ook die skrifgeleerdes, ja die groot teoloë van daardie tyd. Die teksgedeelte praat van sy dissipels, nou in hierdie konteks moet ons dit nie net verstaan, as jy gewone 12 dissipels nie, maar ook an die mense wat Hom dag en nag gevolg het.

Is die Hel en die wat daarin verlore gaan ook vir jou eerste prioriteit?
Ek meen: dit is ons as kinders van die Here se opdrag om die verkondinging van die genade aan ander bekend te maak? Is dit ook joune?

Hoeveel van die preke wat ons vandag oor die radio, of oor die TV of in die kerk hoor, gaan nog oor die Hel?
God se toorn, en oordeel is net so ‘n belanrike eienskap as Sy liefde, en geduld, en sagmoedighed, en almal.
Dat God gevrees moet word, is vir ons baie baie duidelik in vers 5. En as Christus self so sê, kan ons durf om met Hom daaroor in stry te wees. Kan ons Hom tot ‘n leuenaar maak?

Jesus het baie keer vir die gelowigges gepreek, ja die hoogstaande, hoogeagte, (durf nie met hom stry teoloë) Ja die met groot geleerde, kwalifikasies . Jesus het baie keer spesifiek net met hulle gepraat. (Kyk gerus na Matt 23)

Jesus het baie keer ook gepraat oor die valse lering van die teoloë van daardie tyd, en die woorde van 2Tim 4:3-4 word al hoe meer waar:
want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. (4) Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.

Een van Jesus se laaste waarskuwings aan die gemeente die dag was: "Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary.
M.a.w pasop vir valse leringe!
PASOP vir “false teachings”

Dr John McArthur haal in ‘n preek iemand aan wat gesê het dat:
“False religion provides a damming religion something that sin does not do!”

Jy weet of jy ‘n huigelaar is.
Jy weet of jy skynheilig is.
Jy weet watse teologie jy aanhang.

Alles wat jy ooit gesê het.
Alles wat jy ooit gedoen het.
Alles wat jy voor en vir die ander weggesteek het, ja alles sal eendag geopenbaar word.

En dit, ja dit sal geopenbaar word, as jy verlore is.

Oscar Wild, wat op sy oudag beken het dat hy ‘n wilde homoseksuele lewe gely het, het gesê: “He has forgotten, that what a man hides he will oneday be heard shouted from the housetop.”

Baie ongelowiges gaan eendag die doderyk binnegaan, vol geloof, geloof aan dit wat hulle geglo het toe die huigelaar teoloe dit aan hulle verkondig het.

En hulle het dit geglo.... omdat... omdat.... omdat hulle dit graag wou hoor, en nie die waarheid nie.
So wat sê dit als vir jou en vir my?
Dit se en stel dit onomwonde dat kinders van die Here (teoloe) inkluis hulle meer moet besig hou met die dinge in die woord as die teologie buite die woord. Want as jy jou met die Bybel bemoei, dan lees jy naderhand nie meer die Bybel nie maar die Bybel, lees jou!

Nou wat gaan gebeur, wat gaan die regsproses wees die dag as die Here kom?

Hierdie vraag word deels vir ons beantwoord uit Openbaring 20 asook soos omvat in NGBL Art 37.

In die gedeelte van Openbaring word daar vertel van ‘n sekere hoof gebeure (noem dit 3 fases as jy wil)
Voorbereiding vir die Hofsaak -> Die Hofsaak en beslissing -> en dan die vonnis.

In die eerste plek, word daar voorbereidings getref.

Wat is die voorbereidings?
Die Hemel word in gereedheid gebring vir die regsaak, en vir dit om plaas te vind moet daar eers sekere dinge, gebeur.

Wat is hierdie dinge? Dr Willie Marais skryf in ‘n boek genaamd: Aktuele Sake onder andere die volgende oor die “Wederkoms van Christus”. Marais (2001:264)
Hy skryf en stel:

Oor die wederkoms van die Here skryf Paulus:

1 Kor 15:51-53 Kyk, ek maak ‘n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. (52) By die laaste trompet sal dit in ‘n oomblik, in ‘n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word. (53) Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike.

Hy verduidelik dat die almal wat daar van gepraat word in hierdie teks al die mense insluit wat nog lewe die dag as die Here kom; die gereddes sowel as die ongereddes. Almal moet met onverganklikheid beklee word want die wat gered word beërf die ewige lewe;

(want ons lees in)

1 Joh 5:11-13 En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. (12) Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. (13) Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

En die wat verlore gaan beerf die ewige straf; want
Opn 14:9-13 ‘n Derde engel het agter die eerste twee aan gevlieg en hard uitgeroep: "Wie die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorkop of op sy hand aanvaar, (10) sal van die wyn van God se toorn moet drink. Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink. In die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam sal hy met vuur en swael gepynig word. (11) Die rook van hierdie pyniging styg tot in alle ewigheid op, en hierdie mense het dag en nag geen rus nie, hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en dié wat die merk van sy naam aanvaar." (12) Hier het die gelowiges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo. (13) Toe het ek ‘n stem uit die hemel hoor sê: "Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe." "Ja," sê die Gees, "hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle."

In die gedeelte in Openbaring 20 wat ons saam gelees het praat dus van n’ opstanding van die nuwe ligaam om onverganklik saam met sy siel verenig te wees.
Daar word dus in openbaring na twee opstandings geimpliseer/verwys.

Die “eerste opstanding” (Op 20:5,6) verwys dus nie na die ligaamlike opstanding nie, maar na ‘n opstanding vir die gelowiges as ‘n deurgang na die lewe:

Luk 20:34-39 Jesus sê vir hulle: "In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, (35) maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. (36) Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. (37) Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’. (38) Hy is nie ‘n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal."

Opn 6:9-17 Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. (10) Hulle het hard geroep: "Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?" (11) Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog ‘n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is. (12) Ek het gesien toe die Lam die sesde seël oopmaak: daar het ‘n groot aardbewing gekom. Die son het swart geword soos rouklere, en die maan het heeltemal soos bloed geword. (13) Die sterre aan die hemel het op die aarde geval soos die navye van ‘n vyeboom afval as dit deur ‘n sterk wind geruk word. (14) Die hemel self het verdwyn soos ‘n boekrol wat opgerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke geskud. (15) Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip. (16) Hulle het vir die berge en die kranse gesê: "Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. (17) Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?"

Die mense wat deel is van die eerste opstanding, sal wees saam met Christus in die stad van die Lewende God:
Heb 12:18-23 Julle het immers nie gekom by ‘n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind, (19) trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie. (20) Die bevel dat selfs ‘n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word, was vir hulle ondraaglik. (21) So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: "Ek sidder van angs!" (22) Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, (23) die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is,

Hierdie siele is daar waar Christus is: Fil 1:23 Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;

“Die tweede opstanding” word geimpliseer deur Johannes alhoewel, dit nie direk gestel word nie. Vlg (Openbaring 20:5,6)

Die tweede opstanding is dus die algemende opstanding waneer die liggame uit die stof van die aarde opgewek word, waneer die dood en die doderyk sy dode teruggee.
(Joh 5:28,29; 1 Kor 15:51-55; Op 20:13)

Van die liggaamlike opstanding leer die Bybel in Dan 12:2 tot Op 20:12,13 dat die opstanding die gelowiges sowel as die ongelowiges insluit.

Prof PJ de Bruyn (de Bruyn, 1992:34,35,36) beskryf die, proses wat gebeur waneer ‘n mens sterwe kom, die wederkoms, opstanding en die oordeelsdag as volg wanneer hy skryf dat:

By die dood
Op die oomblik as die mens sterwe word die band verbreek wat liggaan en siel tot ‘n wonderlike eenheid saambind, sodat die liggaam en die siel dan dus los van mekaar is. Gewoonlik word die liggaam daarna begrawe. Die siel van die gelowige gaan na die dood direk na Christus waar dit daar in ‘n bewuste toestand ‘n voorlopige vreugde en saligheid geniet tot en met die wederkoms van Christus. Op daardie dag word die liggaam en die siel verenig wat ‘n volle saligheid op die nuwe aarde sal smaak. Die siel van die ongelowige gaan by die dood direk na die verdoemenis en ervaar dan voorlopige smarte tot en met die wederkoms van Christus wanneer die liggaam en die siel verening word om saam met die ewige smarte in die hel te gaan.
(Vlg Luk 16:19-32, Luk 23:43, Fil 1:21,23, 1 Pet 3:9, Matt 22:31,32, Joh 11:25,26, Op 6:9,10 en Heidelbergse Kattigusmus vraag en antwoord 57,58)
57 Vraag: Watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou?

Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).

(a) Luk 16:22; 23:43; Fil 1:21, 23. (b) Job 19:25, 26; 1 Joh 3:2; Fil 3:21.

58 Vraag: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?

Antwoord: Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar (a), ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit - 'n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie - om God daarin ewig te prys (b).

(a) 2 Kor 5:2, 3. (b) 1 Kor 2:9.

Die opstanding uit die dood
Sodara die basuin van God gehoor word wat die wederkoms van Christus oor die aarde aankondig, sal die dooies opgewek word en die gelowiges wat nog lewe, sal verander word, sodat hulle net soos dei wat uit die dood opgewek is verheerlikte liggame sal hê. By die wat uit die dood opgewek is word die liggaam en die siel dan weer verening. (Vgl 1 Tess 4:13-18, 1 Kor 15:51,52)
Die opstandingsliggaam sal enersyds dieselfde liggaam wees as die wat die mens tans het; andersyds sal die liggame tog heeltemal anders daar uitsien omdat dit verheerlik sal wees.
Paulus verduidelik dit met die beeld van die saad en die plant wat daaruit voorkom. (1 Kor 15:35-38 en 42-44)
Dink ook aan die vlinder. Die vlinder is dieselfde wese wat vroeëer ‘n wurm en daarna ‘n papie was. Tog is die gedaante van die vlinder baie mooier en indrukwekkender as toe dit ‘n wurm of ‘n papie was. So is dit dus by die opstanding uit die dood: Ons het dieselfde liggaame as nou; tog is dit baie anders en baie heerliker as nou.


Daarna, as dit gebeur
In die tweede plek word die regspraak gelewer in ander woorde die oordeelsdag vind plaas.

Die oordeelsdag en ewige bestemming.
Op die oordeelsdag sal die mense wat deurt die eeue heen gelewe het voor Christus verskyn om geoordeel te word. Of ons gered en of ons veroordeel sal word sal dis daarvan afhang of ons waarlik in Christus geglo het en Hom ook uit geloof met ons lewe en ons werk gedien het of nie. Die mese sal geoordeel word volgens hulle werke. (Vgl Pred 12:14, 2 Kor 5:10, Op 20:12) Op die oordeelsdag sal die boeke geopen word. Met hierdie boeke word ons gewetens bedoel. Daarop word alles wat ons op hierdie aarde gedink, gedoen en gesê het onuitwisbaar opgeteken op die oordeelsdag word die geopenbaar. (Vgl Matt 12:36, 25:14-46, Nederlandse geloofsbelydenis NGB Art 37)
Die ongelowiges en die goddeloses sal weggestuur word om vir ewig die smarte van die hel saam met die duiwel en sy engele te verduur. (Vgl Matt 10:28, 25:41,46, Op 20:8, 21:10) Die gelowigges wie se name egter in die boek van die lewe opgeteken is (Op 20:12,15) hulle sal uit genade ter wille van die soenverdienste van Christus vrygespreek word om die ewige lewe met volmaakte vreugde en geluksaligheid te verkry as hulle op die nuwe aarde onder die nuwe hemel altyd by die Here sal wees. Die heerlikheid wat die kind van die Here daar verewig sal ervaar sal groter wees as wat ‘n oog gesien, ‘n oor gehoor en in die hart van die mens ooit opgekom het. (Vgl 1 Kor 2:9)
Prof PJ de Bruyn (de Bruyn, 1992:34,35,36)

Ds Willie Marais (Marais 2001:272) verduidelik dat: Die boek van ons gewete of dan nou die verhaal van ons lewe begin al van voor ons geboorte omdat ons in sonde ontvang en gebore word. (Vgl Job 14:4, Ps 51:7, Rom 3:22,23, Rom 5:12, Ef 2:1-3)
Die oordeel gaan dus oor ons:
 verborge sondes (Pred 12:14, Rom 2:16);
 oor ons begeertes (Eks 20:17)
 oor ons gesindhede (1 Joh 3:15)
 oor ons gedagtes (Mark 7:21,22)
 oor ons woorde (Matt 12:36)
 oor ons werke (Op 20:12)
Die groot vraag is dus? Het ons heilig gelewe? (1 Pet 1:15,16)
(Marais 2001:272)

Kan ons weer na Luk 12 v 2 en 3 kyk. Op die oordeelsdag sal daar vir die ongelowige iets vreeslik gebeur want: (2) Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. (3) Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word."

Ek wil tog iets verder sê oor hierdie gedeelte van die binnekamers en agter geslote deure. Tydens my voorbereiding deur hierdie gedeeltes het die gedagte van MXIT by my opgekom. Liewe jong maat en vriend? Wat het jy al daar binne in die chatrooms gesê en gestel?
Het jy werklik gedink dat dit ‘n geheim sal bly?

Vir die ongerredde sal dit wees soos ‘n betroubare notule wat bevestig gaan word. Jou hele gewete al wat jy gedoen het sal teen jou en verby jou speel soos ‘n rolprent.

Op daardie dag gaan die sonde, en die daaropvolgende smaad deur die gewetens van die ongereddes as’t ware as ‘n film vertoon word. En daar sal die ewigheid wees vir almal om daarna te kyk.
Moenie bekommerd wees oor hoe lank dit gaan neem nie of dat dit dalk te lank gaan neem nie. Die lig van God se waarheid sal alles uitwys aan die goddelose.
Die regspraak en die oordeel vir die ongeredde die wie se name nie in die boek van die lewe staan nie is finaal.
Die bestemming vir die ongerredes is die HEL daar is geen omdraaikans dan meer nie.
Die Bybel se in baie baie duidelike terme. 2Ko 6:2 Hy sê: "Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp." Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.
God se tyd en dag van jou redding is altyd vandag en nou. Ek kan dit oor vandag en nou sê, maar ek kan dit nie oor ‘n uur van nou af sê nie, want dalk is dit dan reeds te laat vir jou.

Dit bring ons by nog ‘n belangrikke vraag.

En wat van die gelowige?

Wat van die kinders van die Here gaan hulle ook moet rekenskap gee van alles wat hulle gedoen het op daardie dag?
Gaan daar ook ‘n klagstaat van die oordeel vir hulle wees?

Die antwoord op hierdie vraag lê gelukkig vir die gelowige opgesluit in Op 20:12.

 NÉÉ die kinders van die Here se name staan in die Boek van die Lewe die ander boek. Goddank nee, deur die genade en deur Christus se kruisverdienste is hulle vrygesrpeek.
 Die wie se name in die boek van die lewe stan se sondes is bedek met die bloed van Christus.
 Hulle is volkome vrygekoop en verlos.
 Rom 8:1 Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.
 Dat die kinders van die Here wel rekenskap sal gee oor die dinge wat hulle op aarde gedoen het is ook waar, maar dit is ‘n onderwerp vir ‘n ander geleentheid.
 Verloste,gelowige, wedergebore kinders van die Here, sal vir altyd saam met Christus in die Hemel wees.

In die derde plek word word die vonnis gefel.

Om meer duidelikheid te kry aangaande die hel, het die Here Jesus die gelykenis vertel van die ryk man en Lasarus.

‘n Gelykenis is ‘n storie of illustrasie wat gebruik word om ‘n waarheid te verduidelik.

Uit die verhaal van die ryk man is Laserus en die voorafgaande gedeeltes in Lukas 12 waar die Here ander gelykenisse ook vertel, kan ons aflei dat twee van die sondes van die ryk man was dat:
 Hy geld as sy god beskou het en dat
 Hy hom nie ontferm het oor die arme nie.

Dalk het die ryk man gesê: Nee sjoe moet hom nie te veel help en bederf nie want net-nou raak dit ‘n gewoonte. Môre sit hy dalk weer hier.
Is ons nie ook dalk partykeer so met mense wat op ons pad kom nie? (Hier moet ons onderskeiding maak tussen die beroepsbedelaar en die wat werklik in nood is)

Iemand het per geleentheid gese: Die mens kan eerder ‘n duisend maal eerder siek wees na die liggaam as kreupel na die gees.

Die belaar sterf en meskien het die bedelaar sommer ‘n armsalige begrafnis gehad, toegemaak in ‘n kombers en is begrawe.

Die gelykenis vertel vir ons dat die ryk man ook tot sterwe gekom het en begrawe is:
In my verbeelding kan ek my die begrafnis van die ryk man voorstel:
mooi blomme,
stampvol kerk,
dalk ‘n gedig of twee,
roerende begrafnisrede,
pragtige diens deur die predikant en dalk die allergrootste grafsteen.
En waar is hy nou?

Hoe baie waar is hierdie nie ook van vandag se begrafnisse nie. So terloops? Het jy al aan jou eie begrafnis gedink?

Prof Kolie Kotze het per geleentheid is in die lyn gesê van: Die begrafplase se grafstene skreeu die laaste leuen van party mense uit.

In my verbeelding wonder ek dalk wat gebeur het in die doderyk toe die ryk man daar aankom: (Kan jy jou indink wat gebeur het toe die ander verlorenes sien dat hy ook daar opdaag?)

Ja hier is jy nou ook, het van sy mede gevangenis gesê: “Feel at home”, maak jou tuis.
Sjoe en is jy... is jy... is jy ... is jy ook hier, Sjoe jy was dan ‘n ouderling, jy was dan so gereeld in die sinagoge.

En wat is dalk gesê toe die arm man in die Hemel aankom?
Daar was dalk musiek in die Hemel, God se kind is veilig tuis.

Jesus vertel die gelykenis aan die mense omdat hy wil hê dat ons moet verstaan dat -
AAN DIE ANDER KANT VAN DIE GRAF:
 Aan die ander kant van die daar kan ‘n mens sien. Of jy nou blind was op aarde of nie. Die ryk man herken vir Abraham onmiddelik, niemand het dit vir hom gesê nie
 Aan die ander kant van die graf herken alle mense mekaar. Die vraag is maak hierdie gedagte jou bly? Dalk gaan jy iemand eendag herken wat jy verlei het tot sonde. Dalk gaan daar eendag iemand wees dat jy een van die oorsake is dat die persoon in die verderf is, iemand wat jy saam in die dondker geheime kamers mee verkeer het. Jy gaan die mense herken maak nie saak aan watter kant van die doderyk jy is nie. Dalk gaan jy eendag hoor: DIS JY DIS JY DIS JY Dis jou skuld dat ek hier is dis jy dis jy!
 Aan die ander kant van die graf kan elke mens praat. Die taal maak nie saak nie maar dat ons mekaar sal verstaan dit is seker.

Die rykman vra nie verniet dat sy tong aangeraak en afgekoel moet word nie. Sy tong het hom dag en nag herhinder aan die dinge wat hy gese het. Sy gedagtes sy tong is sy vuur. Jes 66:24 En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het; want hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en hulle sal afgryslik wees vir alle vlees.
Jy sal jou sondes onthou, JY SAL AL JOU SONDES, ALLES ALTYD ONHOU, ja jy sal jou sondes bedink, en dit sal aan jou vreet. Dit sal voordurend aan jou tong wees!

Die vraag wat opkom is, wat maak jy vandag nog met jou tong?

In die NGB leer ons dat die boeke dui op ons gewetens, wat gaan op ons gewetens wees?
Wat gaan ons onthou?
 Kerkklokke wat lui, en ons wat eerder tuisbly.
 My gholfballetjie sondae oggende op die gholfbaan
 Baie gaan dink en dink en dink oor die dinge wat hulle dalk by hulle ouers geleer het, ma se eerste sigaret, en pa se drankie. Ma en Pa en onwilligheid om hulle kinders in die weë van die Here op te voed. Baie gaan dalk dink aan hulle eie broers en susters, broer jy was die verkeerde voorbeeld, sussie hoekom het jy my dit laat doen?
 Dalk gaan jy al die skinderstories en slegmaakstories van ander onthou wat jy valslik teenoor hulle vertel het.

Hoeveel mense is nie daar vandag reeds wat nog lewe nie, en hulle bid reeds dat hulle die DROGBEELDE van hulle sondes moet vergeet. Hoe erg gaan dit nie eendag in die verderf wees nie.

Hierdie selfde boodskap gaan dalk, eendag vir EWIG in jou kop ronddwaal, vir ewig op jou lippe wees.

God se tyd om gered te word is altyd vandag, vandag want wie weet wat more inhou?

AAN DIE ANDER KANT VAN DIE GRAF:
 Aan die anderkant van die graf gaan die mense mekaar in die hel verwyt. WAAK WAAK dan teen van die mees gevreeste woorde in die hel:

JY JY JY!!! Dit is jou skuld.

Waar staan jou naam opgeteken?

In watter boek is jou naam?

Kan God jou nog red. Ja verseker.

Vandag is nie verniet die dag van jou heil en die dag van jou welbehae nie. Kom maak vandag die dag dat daar musiek en blydskap is in die Hemel oor jou!

Amen.



Verwysings

BYBEL, OAV (1953) Met verklarende aantekeninge: Deel III

DE BRUYN, P.J. (1992) Die Gesonde Leer. Potchefstroom. Calvyn-Jubeleumboekefonds

ENGELBRECHT, B.J., PELSER, H.S., VAN ZYL, A.H., (1986) Wat sê die Bybel: Deel I, Pretoria, JP van der Walt

GERDENER, G.BA, (1971) Handboek by die Katkisasie, Pretoria, NG Kerk Uitgewers

MARAIS , P.W., (2001) Aktuele Sake- Dr Willie Marais. Pretoria, Anrics

MARAIS , P.W., (1993) Die laaste dag op aarde- Dr Willie Marais. Pretoria, Aktua Pers


Comments

Popular posts from this blog

Brief aan 'n vriend

Here dankie vir my vrou!

Maak 'n PATATROL. Aanbeveel deur die Hartstigting en Orgaanskenkersvereniging, 'n Weighless Top Ledewerwer!