Dag 3 In Amerika
















Dit is regtig iets om te beleef! Ek het nie woorde om hierdie inskrywing reg mee te begin nie. Dit is nou Sondagoggend 7 Junie en die tyd op die kamerhorlosie se dit is 04:40. Eergister was 'n papnat dag in NY! Ek het maar in die Hop-On Hop-Off bus vertoef, en verder die stad verken. Dit is interessant om te weet dat die liewe Hollanders 'n enorme rol gespeel het in die vorige bestaansjare van die "New Amsterdam" wat toe later 'n gedeelte van die huidige NY geword het. Wall straat het New Amsterdam geskei van die res van die stad omrede die die hollanders 'n houtmuur tussen die twee gedeeltes opgerig het om die Britte uit te hou. Hehe. Die koloniale peste was ook maar erg daardie tyd lyk dit my.

Ek het verder die grote stad verken, en het regtig weereens tot die besef gekom, dalk gebeur dit daagliks met my; van hoe klein die mens regtig is. Dit is opmerklik om te sien hoeveel staatuitvoerings en hoeveel staartkonserte daar is, plek plek sien 'n mens groepe mense wat erens iets probeer uitdruk, iets probeer se met kuns en dans en gebare, watookal. Ek kry die gevoel dat almal maar iets wil se, almal maar hulle opinie wil lig, want: Hulle glo hulle kan en hulle is geregtig daartoe.

Ek het vrydag aand in my dooddrukskoene "waarom ek die pestelensies gekoop het weet nugter alleen" na die Disney Produksie van Mary Poppins in 'n Broadway Teater genaamd die "New Amsterdam Theatre" gaan kyk. Die plek was stampvol uitverkoop en dit was iets besonders. Die munisipaliteit van die stad poog hulle bes om al die kaartjies wat beskikbaar is teen 2:00 die middag teen half prys bekend te stel vir mense om by spesiale kaartjiekantore op Times Square te koop! Wat 'n wonderlike manier om die kunste te bevorder. Die vertoning was skitterend, en dit is moeilik vir my om dit te beskryf omdat die standaard daarvan wereldklas is. Geen detail in enige aspek van die vertoning is afgeskeep nie. Die dekor en die kostuums sowel die spesiale efekte is iets om te aanskou. Iets wat ek nog nooit gesien gebeur het op 'n verhoog nie! Die beligting en die klank is WOW! Ek is baie dankaar dat die Here my die geleentheid gegee het om so iets te kan sien. Waar het ek 'n kaartjie bekom mag jy vra? Wel in ons hotelportaal is daar afslagkaartjies vir die vertonings, en ek het een geneem en by die teater se "box office" self 'n kaartjie gaan koop teen $61.50 met afslag. Dit was duur maar soos hulle hier sal se: Elke Penny werd. As die begroting my dit nog toegelaat het, het ek nog 'n vertoning gaan kyk. Maar een is genoeg om oorweldig mee te word. :-)

Dit lyk nie of NY ooit gaan slaap nie en die Big Apple is regtig 'n stad van enorme proporsies. Ek was gister op na die 86ste vloer van die Empire State gebou, om die stad van daarbo af te besigtig teen $20.00 sjoe! Dit was 'n biekie bewolk maar steeds iets om te beleef en te aanskou. Grootskaalse opknappings en herstelwerk word regdeur die stad gedoen. En reg onder langs die hotel waar ek bly word daar 'n nuwe gebou gebou. Dit is iets om te sien hoe die konstruksiewerk gebeur.

Die planne vir vandag is om 'n Presbeteriaanse kerk te besoek, as ek daar kan kom en as ek die kerk kry. Hehe. Die diens begin 11:00 en ek gaan my bes probeer om dit by te woon. Ek moet net eers die ondergrondse treinstelsel uitpluis. Iets wat ek ook vandag wil gebruik vir die eerste keer!

En dan, as ek kan gaan ek soek. Soek vir ander skoene; want ek kan eerlik maar dit wat ek tans saamgebring het nie verdra nie. Dit is te erg. Hopeloos te erg en maak te seer. :-) As jy dom is moet jy sukkel!

Nou ja. Ek gaan hierdie beposting afsluit en sal later weer iets tik. Ek begin die klein sleutelbordjie van die netbook nou net onder die knie kry! Sjoe

Arrie Warrie, B in Merika

Comments

Popular posts from this blog

Brief aan 'n vriend

Here dankie vir my vrou!

Maak 'n PATATROL. Aanbeveel deur die Hartstigting en Orgaanskenkersvereniging, 'n Weighless Top Ledewerwer!