31 Jaar en 2 Dae (Skuins voor 2009)


Nou ja, so is dit.


Nog 'n snelle lewensjaar het sy verskyning gemaak, en is verby. Terselfde tyd het nog 'n kalender jaar ook tot 'n einde gekom. Sjoe.

Wat kan ek oor hierdie jaar se wat verby is... wel.. baie dinge.


Nabetragting


Eerstens was dit 'n jaar vol opwinding vir my maar ook ene vol teleurstelling.

Dit is sleg om met die teleurstelling te begin, en erger nog dat dit iets van een van my nie amptelike lewenskringe moet wees. Is hierdie kring dan my prioriteit? (Ek hoop nie so nie, maar dit is die aspek wat ek as ek terug moet dink oor die jaar, die eerste by my opgekom het, en jou eerste gedagte is gewoonlik jou sterkste gedagte, dan moet ek dit maar noem.)


Jip. Dit is soos ek voel, en oor gevoelens (so leer iemand my) kan niemand met jou oor stry nie, juis omdat dit jou eie is.


Ek voel teleurgestel deur sekere topstrukture, wat helaas rugraatloos en sonder sement is. Om nie eers te praat van eie-ekblangsoekendheid nie (my eie woord!) En dit is ek dink, een van die mens se ergste tekorte in die ou lewe, EK EERSTE SINDROOM! Kom wat wil, en as dit nie werk op hierdie lengtegraad en breedtegraad nie, dan gaan probeer ek dit erens anders! En die gevolge van die tentpenne wat ingeslaan met mag en skielik uitgepluk is op plekke waar dit nooit gehoort het nie, sal bly as 'n letsel totdat die laaste kampeerder weg is. Wat is die gesegde nou weer oor die rotte op 'n sinkende skip?


Maar nouja, genoeg oor die kring!


Kom ek skryf vandag verder oor van die Positiewe dinge, ander kringe in my lewe.


Vir een het ek baie om voor dankbaar te wees by die eersgenoemde kring


Mense wat eg en opreg jou vriende is, individue wat omgee en mense wat daar is vir jou. Dit het ek verseker. Iemand wat met humor baie tense en ergerlike oomblike met 'n brokkie humor kan ontketen, JA. Iemand wat kan luister as jou hart huil, en iemand wat altyd bereid is om die knie vir jou by die Almagtige te buig. Mense wat vir my in die bres sal tree.Dit is werklik iets om voor dankbaar te wees.


Verder is ek dankbaar vir famielie, nou my famielie is 'n komplekse konglomerasie van mense, dinge en om eerlik te wees, gebeurtenisse. (So tong in die kies) Ek sien met afwagting uit na my broer hulle se derde klein Godswonder wat enige tyd haar opwagting kan maak. Ek is dankbaar dat ek 'n Pa en 'n Stiefma kan he,wat alby die Here gevind het. 'n Pa wat altyd daar is om my te help, en wat ek agterkom ek al hoe meer soos hy word. Eish. :-)8

Later meer oor my famielie!


Ek is dankbaar dat ek ook aan 'n gemeente behoort, ene wat omgee 'n ware gemeente! (Ons gemeente sing enige ander gemeente in die Noord onder die tafel uit, VAT ons aan, as julle gemeente wil, watter lofsang sal die kompetisie nie wees nie!!)


Ek is dankbaar vir al die ander oorvloedige seeninge wat die Here vir my gee, daar is so baie. My gesondheid, (ek twyfel soms oor my kop.. hy het gereeld 'n klein kortsluiting, waar 'n kapasitor of twee blaas) ,maar dat ek helderheid van verstand het is ek ook dankbaar voor. Ek is dankbaar dat ek nie enige ligaamlike gebreke het nie. En ek is dankaar dat die Here my seen en vertrou met 'n huis.


Nuwejaarsvoornemens

Kan 'n mens dit eet? Hulle hou nie, hulle werk nie, en almal het tog. Haha so kom ons kyk watter sal ek se:


  • Meer gym toe gaan en oefen

  • Meer luister

  • Meer mense nooi vir ete

Dit is dit.


My verjaarsdag op die 29ste


Eerstens. DANKIE dankie dankie, aan almal wat vir my 'n boodskappie gestuur het, hetsy 'n sms, of via facebook, of veral die besonderse mense wat geskakel het, wat 'n ou oproepie kon opoffer. Baie baie dankie. Nog meer dankie aan my vriendinne en boesemvriend vir die lekker brekfis! Dit was spesiaal, dankie vir al my geskenke. Sjoe ek is werklik bevoreg!


Gedink dit was die hoogtepunt, ja dit was! Maar daar was nog. Dankie ook vir die mense wat vir 'n die groot geskenk van ver gebring het. Sjoe, dit gaan en het werklik golwe van verskeie lengtes en sterktes in my lewe veroorsaak, dit maak my noodsaaklikhede warm (Interne grappie)


Dankie vir almal wat ook kom braai het. Al het my pap miet in gehad. Soos iemand sou se lewende hawe.... lol. (Nee ons het dit nie geeet nie, as jy dalk gewonder het)


En nou?


Wel, ek maak my gereed om na 'n braai ete te gaan, en dan vanaand om 11:15 'n middernagdiens by te woon, by 'n ander gemeente. Ons eie gemeente het dit nie en dit is die tendens by so baie kerke, hou 'n 7uur diens die aand deesdae. Ai hoe pragtig, hoe tegemoedkomend...... As die diens klaar is kan jy betyds huistoe gaan en jollig wees. Heerlik is dit nie? More oggend begin die nuwe jaar met 'n kopseer. Noem my maar oudtyds, of net wat jy wil. Ek verkies die oue, ek kan die nuwe jaar ingaan saam met mede gelowiges, en na my boesemvriend se diens gaan luister: "'n Jaar van klein dinge" so se hy heet sy titel. Ek sien met groot afwagting uit daarna.


Tot later.


B







Comments

Popular posts from this blog

Brief aan 'n vriend

Here dankie vir my vrou!

Sondag Oggend.... Alweer