Total Pageviews

Sunday, May 1, 2011

In Amerika (Deel 3)

Hierdie inskrywing, is 'n bietjie laat. Dit is nou sondag die 1ste Mei (en ek het vrydag in Las Vegas - aangekom), en dit handel oor Seattle en ook idees en gedagtes oppad na Las Vegas.

-----

Dalk het ek dit al gesê, ek weet nie. Die VSA is 'n top eerstewêreld land met ongelooflike potensiaal, en aan die voorpunt, van baie dinge. Maar hier wil ek nie bly nie.

VIVA LAS VEGAS! Ek is vandag oppad na die stad wat genoem word, die "Fabulous city", ek weet dit is verkeerd gespel. Ek sien baie uit na die tydjie wat ek daar gaan spandeer. Ek wil graag die grand canyon sien.

My tyd hier in Seattle was werklik, baie besonders. Die besoek aan die boeing fabriek was een van die hoogtepunte in my lewe en ek is baie dankbaar, vir die geleentheid wat ek gegun is om dit te sien. Die kapasiteit, en die asemrowende prosesse wat daar plaasvind is iets om te beleef. Baie van die dinge is net onwerklik. Die skaal van die dinge daar is ook uitermatig groot, met klem op uitermatig groot.

Ek het nie geweet Boeing bou ook nog 747's nie, die 747-8 is die grootste vlagskip in die boeing reeks en kan net so oor die 425 passasiers vervoer, of na gelang van die konfigurasie. Die nuwe 787, wat beskou word as 'n medium passasiersvliegtuig, moet nog finale vluggoedkeuring kry. Dit gaan die vliegwêreld soos ons dit vandag ken baie verander. Dit was nogal iets om te sien en om te beleef. Ek was ook na die bekende vismark in Seattle, Pike's fish market. Dit was 'n belewenis so tussendeur al die klein winkeltjies en ek het van die lekkerste salm geproe, dit was fantasties.

By al die hotelle waar ek tans was, was die mense in besonder vriendelik en behulpsaam. Ek het darem gespaar met die reis van my hotel na die lughawe, waar die Shuttle my $34 doller gekos het, het die hele reis deur gebruik te maak van publieke vervoer, my $4.50 gekos. Dit was glad nie sleg nie.

Ek verlang na my mense, en ook ons kos, alles hier is styselbelaai, en die weggooikultuur van alles is steeds erg vir my. Elke dag wat ek in die land is, voel ek net kleiner en kleiner. Die Here praat op baie verskillende maniere met mense, en in die tyd het die Heilige gees, baie dinge in my gedagtes tuisgebring. Dankie Here dat ek in U genadetyd kan leef, en dat U op so 'n besonderse wyse met ons almal praat.

Die verwoesting van die tornadoes hier in 4 state van Amerika, oorskadu die Koninklike Britse troue. Die verwoesting van die tornado's, en die werk van die natuur, is werklik erg. DerduisendeMense het alles, alles veloor, hulle hele lewenbestaan is weg in 'n oogwink. 'n Mens kan nie anders as om aangedaan te raak as 'n mens die gebeure op die TV sien nie.

Ons het so baie om voor dankbaar te wees, en net so baie om voor te bid. Dit laat my onwillekeurig dink aan 'n Boodskap van Prof Kotze wat lui, Op die ashoop van die Lewe. Here dankie dat daar mense soos hy was wat as U troue dienaar U Woord suiwer verkondig het - Die dienstekorps raak al hoe kleiner.

Dit is nog bykans twee ure voordat ek aanboord gaan, en dan is dit die vlug vir 2ure 25 min na Las Vegas, ek gaan rustig wees vanaand en sommer net 'n fliek kyk.

---

Ek is op die aardigste vlug waarop ek nog was. Dit is 'n vlug op Alaska Air oppad na Las Vegas, die mengelmoes van mense op die vlug is werklik iets om te beleef, langs my sit twee rou Chinese dames, elk met hulle gesigmaskerkies op. Dit is aardig, en het my aan die dink, vir wat sal 'n mens nou 'n masker dra? Bang jy asem 'n kiem in? (Gepraat van kiem, die persoon voor my het sopas 'n nies der niese gegee, en ek dink nie daar het net wind by sy mond uitgekom nie) Die dierbare vliegtuig waarop ek is, kan enige tyd val, en dan kan die dame langs my darem haar mondmaskertkie gebruik as 'n valskermpie, dit is skoon simpel.
Die ware ding egter is, is dat sy haar masker ekstern dra, soveel mense op die vlug dra hulle sien, nie binne sig nie.

Hier is 'n paar dames diep in hulle 50tigs skat ek wat almal saam op 'n naweek uit is na Vegas, hulle gesels en kuier en dit is al te jolly-patrollie (wonder waar is hul mans?) Dalk op 'n ander vlug.....

Skuins oorkant my sit een van die langste swart mans wat ek in my lewe nog gesien het, soos ons sit is hy bykans 'n koplengte langer as die ander mense op die vlug, sy skoene is ook enorm en ek wonder watter skoengroote hy dra.

Die ergste op die vlug is 'n ou oom, met 'n liggrys sweetpakbroek, en 'n verslonsde, T-Hemp aan. Sy skaapvelpantoffels pas ook glad nie, by die res van hom nie. Ek wonder van harte wat hy in Las Vegas gaan maak.

Vandag by die lughawe was net so erg soos al die ander, dit is nogal 'n prossesl, en daar is duidelik 'n verskil tussen hoe ek op my paspoortfoto lyk en hoe ek nou lyk. ..... Eish.. Almal kyk twee keer en vra dat ek my van vir hulle moet sê... Die dom kruip my nader. Wat is die dom vra jy? Die ouderdom...... :-)

Ek wonder regtig hoe my Hotel gaan lyk, en ek hoop dat ek nie te duur hoef te betaal om daar te kom nie. Hoe meer ek spaar hoe meer geld gaan ek hê, vir 'n ding wat ek baie baie graag in my land wil koop. Die koffie hier is nie halaal nie, dit is gagga. Ek mis Douwe Egberts, en om dit alles te kroon, selfs sommer net ook Ricoffy. :-)

Wat kan ek nog sê? So op die lug om my gedagtes besig te hou. Daar is nog meer as 'n uur se vliegtyd oor.

Ek kyk uit by die venster en sien 'n hoë bergreeks met die mooiste sneeubedekte pieke op, dit is werklik mooi, ek weet nie eers waar ons nou is nie. :-)

Nou ja... ek sal later verder in die Hotel tik :-)