Total Pageviews

Thursday, June 18, 2009

Tatta oom Obama! Hello Caparero en ander en kom hier Douwe Egberts gee my 'n slukkie!

Dit was my laaste slapie in die VSA en vandag om 11:20 kom laai die bussie my op by my Hotel na die lughawe vir my vlug om 17:00. Washington is 'n mooi stad en met baie kontraste teenoor NY. Die geboue is korter, baie baie korter en die meeste is wit of liggrys of lig. Die mense hier is ook anders. Baie meer formeel, baie meer .... soos my ouma Anna sou se "Gekoller en getai". Ek was twee nagte hier in DC (ek weet nou nog nie waarvoor dit staan nie). Eergisteraand het ek laat eers by my Hotel aangekom omdat die vlug waarop ek was van Atlanta af hiernatoe vertraag was. (Een ding! Ek hou nie van Delta Airlines nie! Alles is ge-outomatiseer, alles om die dinge vinniger en beter te maak, maar ek dink ons inboekstelsel daar in SA werk beter. Jy kannie 'n sitplek kies nie! Nee jy wag dat die rekenaar ene vir jou toeken. Die tannie by die toonbank waar jy jou bagasie ingee is ook uiters onbeskof! So ook die balronde omie by die hek na die vliegtuig) Een ding wat my byval en dit was in Belgie en in Engeland ook so, is dat die aankomende passasiers nie geskei word van die wat vertrek nie; so dit laat 'n mens met 'n warboel van ander passasiers in die vertrek en aankomslokale. Ek dink nie noodwendig dit is 'n beter stelsel nie. Die sekeriteit by die vertrek in waar jy deurloop, is so streng want.... hulle is so bang. Jy moet amper alles uitrek! Ek weet dit is ten goede en vir die veiligheid van die passasiers en die ander, maar dit bereik 'n punt waar jy wonder hoe dit moet wees om die heeldag in vrees te lewe? (En dan ruk die besef jou, O jy weet hoe hulle voel, jy ervaar dit elke dag in jou eie vaderland; gter 6 voet hoe betonmure, heinings dubbelle diefwering, en een ADT stelsel) Ek moet nog 'n huis sien in Amerika met 'n heining voor, ek het nog nie nie in een van die strate waardeur ek al is nie.

Hierdie besoek en toer was regtig vir my een van die hoogtepunte van my lewe sover. En ek wil dit benadruk hoe dankbaar ek teenoor die Here is vir die geleentheid. Ek het aan die mooiste dinge gedink, en die mooiste gedagtes gehad, party wat ek sommer hier gedeel het en ander wat ek nie wag om persoonlik vir die mense na aan my te vertel nie, en nie ook om te vertel aan OndersteBoPoort nie.

Gister vroeg in die oggend sommer in 'n koffiewinkeltjie erens in die groot stad, loop daar 'n menigte klomp mense by my verby, baie van hulle deftig aangetrek vir hulle onderskeie betrekkinge in mooi geboue. Die gevoel van hoe klein die mens werklik is het in besonder gister by my opgekom, en die erns van werk (werk vir die Here, want die nag kruip nader) het baie intens deur my gedagtes gemaal. Ek moet werk! Ons moet werk, ons moet erns maak! En hoe moet ons nie werk nie! Hoeveel mense hoeveel dermiljoene mense en ek, tans is ek nog een van hulle. Een eendag gaan ek ook een van hulle wees, maar, maar.... maar waar? Ek weet, maar hoeveel van hulle weet?

My beste allerbeste fonds sover is my liedboeke. Ai ek kan nie se hoe bly en opgewonde ek oor hulle is nie.

Ek het gister die hele Washington plat geloop en het van museum tot museum geloop. Ek was tot by die Withuis deur die park na die monumente, en toe begin dit sous. Dit was reen en wind en water, en die son kom eers weer later! Dit is nou 6:02am en die son is nog nie hier nie, dit donder en storm en reen emmers!

Ek sal later soos belowe fotos hier oplaai asook op FB!

Dankie aan almal wat hier gelees het en wat vir my eposse gestuur het. Ek is baie bly, en dankbaar om mense soos julle te he.

Ek kan nie wag om my toer saam met Meprhou Phourie te reel en te beplan nie!

Ai, ek sit hier as 'n enkel maar gelukkige mens!

Groetnis!

Bertie

Ps: Daar is altyd iets om oor dankbaar te wees, ons loop nog regop deur die skandeerders by die lughawe, en nie gebuk nie..... hehe

Sunday, June 14, 2009

Sondag in Macon Atlanta - Die konferensie is in volle swang!

Dit is alweer Sondag, Opstandingsdag en die week is snel verby. 'n Week wat vir my baie dinge ingehou het, baie ervarings, baie baie gedagtes en gevoelens, ene wat ek baie diepe ervarings beleef het. Die interaksie tussen die mense en die blywende feit dat die mens, maar die mens bly; orals in die wereld is daar pyn, hartseer en blydskap maar die mooiste wat uitstaan is dat God se genade orals uitstaan! Genade onbeskryflik groot!

Ek het 'n paar vriende gemaak hier by die Insite2009 konferensie, en is baie dankbaar om vir die interaksie met mense. Eergister en gister was baie leersaam. En ek voel sommer goed oor my studies. Daar is lig en daar is hoop omdat ek weet dat dit goed sal gaan. Ek het baie dinge geleer en tot baie splinternuwe kennis gekom. Veral in die omgewing van Learning Objects, Informing Objects, en Knowledge Objects! So reg in my kraal. Ek is dankbaar en baie bly om onder iemand soos Prof. van der Walt the studeer. Hy is nie net my Mentor nie, maar ook my leermeester en Pastor en vriend, en sommer my aanneem oom! Iemand met sy hart is skaars.

Die aanbiedings is baie interessant en ons word regtig getakteer deur die Amerikaners, die aanbieders en die organiseerders is werklik vriendelik en professioneel. Die universiteit en die geboue en sentrum waar die aanbiedings en die konferesie is regtig van die bes toegeruste ter wereld. Mensig dit is iets om te sien.

Vanoggend is ek en Jannie Zaaiman, my vorige baas se baas; hehe of sal ek se my vorige dekaan na die First Presbetyrian Church in Macon. En wat 'n wonderlike Geesvervulde geleentheid was dit nie. Die mooiste sang, die allerpragtigste hartroerende orrelmusiek, die orrel het selfs 'n klokke register, waar 'n gedeelte van die musiek gedoen is met klokkespel, die orrellis was weereens iets om te beleef. Die sestet vir die koor was ook iets uiters besonders. Dit is mooi om weereens te sien hoeveel jong mense die erediens bygewoon het saam met hulle ouers, en hoe eerbiedig en hoe oordentlik geklee die mense na die Huis van die Here gekom het. Ai as ons ou NG kerk net so 'n ietsie kan aankleef of leer of sien of ai ek weet nie wat om te se nie, as ons net 'n biekie meer so kan wees. Die erediens en teks was uit Lukas 10, en was dit nie mooi nie. Ek gaan later meer oor die erediens se, en selfs baie van die twee presbeteriaanse diense gebruik in 'n volgende geleentheid wat ek het om iets met ons eie gemeente te deel. Ek kan net se, dat ek uitsien na die Hemel. :-) Maar dat my werk op aarde nog nie oor is nie omdat ek glo dat die Here nog 'n plan met my het, en dat ek nog verder moet groei en meer van die ou lewe afskud. "Elke las moet ons afgooi, die sonde wat maklik verstrik. Vir die vreug daarna het hy smarte gedra. Hy verken en versterk ons geloof!"

Ek het nog 'n hymnal gekry, een by die kerk waar ek vanoggend was, en dit bring die aantal boeke wat ek nou het tot op 7 te staan. Mense wat gaan ek doen by die lughawe. Hehe. Die hymnal is nie dieselfde een as wat ons gebruik het in die vorige kerk van verlede sondag nie. Die hymnal het 'n losser aanslag en het meer vryvorm sang in. Nee nie, donderslae en trommusiek nie maar eerder nuwer liedere, soos "Be thou my vision". Ek het die laasgenoemde lied vanoggend uit my hart in die kerk gesing. Dankie Robin Mark, dat ek die lied kon leer deur een van jou CD's. Onderstebopoort hier kom nuwe liedere! Ek kannie wag dat Tannie Dorothy vir ons van die liedere speel nie. :-)

Ek en Jannie bied more ons paper aan. Hy werk verwoed aan aanbieding en ek gaan so 'n bietjie van die laaste redigering gedoen. Die konferensie sluit more, en dan gaan ek en Jannie 'n biekie die res van die staat verken.

Wel laat ek gaan werk.

Groete en Seen

Bertie

Wednesday, June 10, 2009

Altanta Georgia wat 'n dag, en Macon Georgia

Wat 'n afgelope paar dae was dit nie. Ek het eergister in Atlanta aangekom en is na my Hotel toe met 'n Shuttle. Dis is 'n slim idee om te volg en ek gaan verseker dit in die toekoms weer gebruik. Die wat ek in gebly het is naby aan die lughawe, en bied 'n gratis 'shuttle' diens van die lughawe heen en weer. Een goeie ding daarvan is dat die hotel ten minste $30 per nag goedkoper is, en die vervoer na die hotel gratis, wat 'n bargain! En om in die stad te kom is die publieke vervoer baie goedkoop 'n heeldag toerkaart het my $8.00 gekos om te ry soos wat ek wil.

Ek was gister by 4 toeriste hoogtepunte in Atlanta en hoe het ek daar gekom? Wel met Martatjie! Jip TaMARTA het my daar geneem. Marta is die naam van die publieke vervoerstelsel in Atlanta wat die trein en busstelsel insluit. Ek het die Olimpiese herdekingspark besoek, WOW dit was mooi.

Daarna is ek na die CNN hoofkantoor vir 'n toer van die ateljee's en Jinne was dit nou iets om te sien en iets om te beleef! CNN is groot, baie baie groot. Aan die begin van die toer het ek met die wereld se grootste losstaande roltrap 8 vloere opgery! Dit was nogal iets. Dit neem 'n mens 3 minute om tot bo te kom met die roltrap. Daarna het ons 'n agter die skerms toer gehad van wat gebeur by CNN, en ek was nogal regtig beindruk. Dit is 'n geharwar en 'n gewarboel en rekenaars en ateljees en mense op mense op mense, en rekenaar op rekenaar. En dit is snaaks om te dink dat die hele besigheid rondom nuus draai! Nuus nou! Nuus eerste, sensasie, verslaggewing alles rondom die mense, vir die mense Central News Network vir almal vir die mense, der miljoene regoor die wereld. Met meer as 38 satelietstasies regoor die wereld. Selfs een in SA.

Die hele CNN storie het 'n gedate by my laat opkom. Daar is 'n boodskap met nuus die goeie nuus wat regoor die wereld versprei moet word, die goeie nuus, en die ergste is, nie almal wil eers die goeie nuus hoor nie. Die beste van die goeie nuus is die feit dat elkeen wat glo ook 'n verslaggewer is. 'n Verslaggewer vir Christiaan Good News Network. Wat saai ek daagliks uit?

Na die besoek aan die CNN hoofkantoor is ek na die Coca-Cola World! En dit was 'n belewenis en 'n half, van 'n toer tot hoe Coke gemaak word, 'n 4D teater vertoning met 3D brille en stoelle wat op en af ruk met water en wind wat op jou gespat en gespuit word. WOW! Die geskiedenis van COKE is ook interessant, om te dink dat dit eers vir maagkrampe ontwerp is. En dat daar regtig iets soos 'n SODA fountain was waar coke geloop het soos 'n fonteintjie en die mense net kon volmaak. En dan is daar nog die proesessies, WOW 64 verskillende koeldranke van regoor die wereld en proe en proe en pee hehe. Daar was torings met fonteine waar jy kan ingooi van geur tot geur, van die snaakste geure en smaake in Asie en Europa tot die wat ons ken in Afrika soos Stoney. Onder elke land was daar 'n koeldrank maar saaks: twee van die koeldranke wat hulle se ons in SA kry, ken ek glad nie. Dit is onder die naam Bibs en ek ken dit glad nie. Die een smaak soos Pine Nut en die ander een soos Lemon Twist maar die naam ken ek glad nie.

Rooibos fussy drinks is ook nou groot in Amerika. Hulle noem dit Red Tea omdat rooibos glo gepatenteer is. :-) Met die uitstap van die toer kry elke persoon 'n klein botteltjie Coke wonderlik! Hoe kwel is dit nie om te weet dat ek 'n unieke botteltjie Coke het nie. :-)

Na die Coke wonderwereld is ek na die Georia Akwarium. Dit is baie lekker en mooi om dit te sien. Van snaakse visse en hordes mense met kinders.

As daar een ding is waarvoor ek baie dankaar is in Amerika is dit die Subway $5.00 foolong sub. Ek leef op dit. Hehe.

Hieronder is 'n ekserp van een van my GoogleTalk gesprekke met een van my ander vriende. Ek sluit dit in vir addisionele inligting en sommer vir julle om dit te lees.

Gesprek: Bertie en SJ du Preez
===========================

Bertie: Hello
Ek het vandag in Macon aangekom
En het gaan inkopies doen by die WallMart
hoe gaan dit?
Ons gaan more op 'n uitstappie

sjdupreez: when is the converence?
Bertie: Day after tomorow
sjdupreez: hehe
so your touristing around
:p

Bertie: Dit is vrek warm hier!
Ek leef op $5.00 subs, dan kom belasting by dan kos die ding $5.54
hehe
Ek het my springbok kepsie in die shuttle verloor
ek is skoon vies vir myself toe koop ek vir my 'n ander keps in die Wallmart
hier moet 'n mens 'n hoed of iets dra

sjdupreez: lol

Bertie: ek wil jou nie pla as jy leer ni
so se enige tyd as jy swot
:-)

sjdupreez: ek leer nie so baie vandag nie

Bertie: ok
Ek verlang huistoe dit is great hier maar ek mis my mense. Die biekkie wat ek het.
Dalk sal dit beter wees as daar eers mense is om mee te chat. Die swart mense in Amerika is baie baie gaaf. En regtig aangenaam. Hulle gesels maklik en is baie behulpsaam. Regtig
Die Hotel waarin ek is tans in Macon sit langs 'n snelweg. Dit is die amptelike konferensiehotel, en is gebou soos clusters met kamers. Dit is nogal baie baie lanie! Die WallMart was nogal iets om te beleef. Baie soos 'n Pick n Pay Hyper. Maar hule verkoop goed in grootmaat ook.
Die Amerikaanse ekononie kry tans swaar. Daar is baie winkels wat closing down sales het, en gister is al die Chrystler motorhandelaars se deure gesluit regoor die land bykans 2500 handelaars is nou toe. Waar ek tans is lyk dit baie soos die Kwazulu Natal se omgewing maar sonder die bergel, baie groen met digte bos gedeeltes.
Hulle ervaar egter 'n droogte die damme loop leeg of baie damme is op 20% vlakke. Daar is aan my vertel dat hulle die damme volpomp met water uit ander state uit net om al die visse aan die lewe te hou. Daar is ook streg waterpeperkings ingestel, die mense mag glad nie hulle tuine natmaak nie.

sjdupreez: I also noted that prolonged periods away from SA will cause one to miss home

Bertie: Ja ek weet nie wat dit is nie maar ons eie land is en bly maar Spesiaal, ek sal nooit emigreer nie.
Ek glo dat ek in SA is met 'n doel.

sjdupreez: hehe

Bertie: Die hotelkamer waarin ek is asook die vorige een waarin ek was het altwee hulle eie yskaste en mikrogolwe in. Dit is great! Asook die hulle eie perkuleerders vir moerkoffie! Ek het melk by die Wallmart gekoop en koffie ook en nou is ek voor in die koor wat dit aanbetref. My bloedgroep is nie verniet Mocca Java + nie. :-)

Bertie: Een ding wat my regtig ook opval is die "waste" of "disposable" natuur van dinge doen in die VSA. Ek weet nie om dit te beskryf nie maar orals in die hotelle en in die restaurante waar ek was is daar 'n groot vermorsing van goed. Alles kom in weggooibare vorm. Ek was nog nie in een hotel waar daar 'n koppie was nie, alles is weggooiglasies en glase. Die koffielepetjies is van hout, soos roomysstokkies. In die Macdonalds maak hulle nie van die skinkbordjies gebruik soos daar by ons nie alles word in 'n groot sak gesit en dan eet jy dit maar so uit die sak uit op jou tafeltjie net om die hele spulletjie later weg te gooi. Dit is dieselfde by die KFC waar ek was, om nie eers te praat van die aaklige ontbyt by die eerste hotel waar ek was nie. Dit is als weggooi items, en dan het hulle jou sulke klein bordjies gegee om 'n geroosterde bagel in te sit. 'n mens het twee bordjies nodig vir een bagel. hehe. Maar ek kla nie, dit is net erg om te se dat ek tot nou toe in amerika nog niks uit 'n glas, of 'n beker, of 'n regte bord uit geeet het nie. ek het om eerlik te wees nog nie eers 'n regte vurk of mes in my hande vasgehou nie, nog net alles van plastiek. Dit is nogal skokkend vir my. :-)

Monday, June 8, 2009

Dag 4 in Amerika. Dag 1 van die week. :-)

Haai almal wat hier lees!

Ek het sommer besluit om vandag 'n ekserp van 'n epos aan my ou Technikon-aanneemma hier op te plaas. Dit vertel mooi van wat ek alles vandag gesien gedoen, beleef en ervaar het hier in die Grote Appel.

Hello Mev E. Ek hoop dat jy my sms en my epos gekry het. Behalwe at alles sover hier in NY regtig iets is om te beleef was dit vanoggend se erediens in die Fith Avenue Presbetarian Church iets om te beleef en 'n kerkdiens wat ek nie sommer sal vergeet in my lewe nie. Ek was tussen soveel kulture, en saam het ons ons Skepper en maker aanbid. Daar is 'n groot aantal oosterse mense in die erediens gewees, en die manier hoe hulle mekaar groet en saam erediens hou is vir my iets besonders.

Dit is wonderlik om te sien wat 'n standaard in die diens gehandhaaf word. Ons glo ek nie was al in ons lewe al op daardie punt in enige NG kerk nie, nee ek meen nie die verkondiging van die Evangelie nie, maar die diepe koinonia wat daar tussen die mense is. Daar is ook baie swart mense en ander soos spanjaarde ens. Die Koor was uiters profesioneel, en die musiek van die Orrel PRAGTIG! Ek het sommer in die erediens lekker gehuil! Daar was baie jongmense ook, en dit het my sommer vies gemaak vir ons Suid Afrikaners! As gesinne saam die erediens bywoon met 'n baie diep Gereformeerde grondslag en almal ten volle deelneem hoekom moet daar altyd "ge catter word" vir totalle vernuwing, in musiek en sommer voel ek partykeer met die evangelie ook. Ai! Ek is sommer op-ge-errie! Dit was vandag Trinity Sondag en die Ds. het iets van die verstaan van God drie-enig verduidelik in een van die mooiste metafore nog. Een wat ek nie kan wag om oor 'n koppie kofffie met jou te deel nie.

Na die erediens het ek in die state geloop, en ek wil eerlik se dat ek myself amper kisboude geloop het. Maar voordat ek weg is uit die kerk is ek toe eers na die winkeltjie in die kerk toe. Daar het ek twee van hulle ou-hymnals gekoop $10.00 elk. Die mense was baie vriendelik en ek vra toe baie mooi of daar nie 'n manier is dat ek een van die nuwes in die hande kan kry nie Die dame by die toonbank stuur my toe na een van die hoof diakens, hy was baie gaaf en gee my toe sommer een. Mensig! is ek bly en dankbaar vir dit! Ek gaan vir Tannie D een van die oues gee, en gaan uit die nuwe een vir haar 'n kopie laat afrol by die kerkkantoor. Dalk as ek baie vriendelik is volgende sondag in die kerk kry ek nog een. :-) Hier waar ek nou sit is ek nie net Kapot nie maar dit voel vir my asof elke beenspier besig is om te toy-toy. Eks FLOU!! Hehe. Die hele een lange straat was afgekordon seker vir meer as 20 blokke met 'n straatvlooimark! So iets het ek ook nog nie beleef nie Dit was asof die hele liewe NY se mense daar was. Een ding moet ek van die Amerikaners se en ek kan dit sommer duidelik opmerk, FAMILIE is groot! Almal doen dinge saam almal leef saam en die meeste is baie vriendelik!

Die lughawe Shuttle kom kry my more oggend 6:20 en ek gaan dan na terminaal 3 van JFK toe waar ek na Atlanta vlieg met Delta. Ek sal weer van my laat hoor.

Groete hier vanuit Die Merikas.

Sunday, June 7, 2009

Dag 3 In Amerika
















Dit is regtig iets om te beleef! Ek het nie woorde om hierdie inskrywing reg mee te begin nie. Dit is nou Sondagoggend 7 Junie en die tyd op die kamerhorlosie se dit is 04:40. Eergister was 'n papnat dag in NY! Ek het maar in die Hop-On Hop-Off bus vertoef, en verder die stad verken. Dit is interessant om te weet dat die liewe Hollanders 'n enorme rol gespeel het in die vorige bestaansjare van die "New Amsterdam" wat toe later 'n gedeelte van die huidige NY geword het. Wall straat het New Amsterdam geskei van die res van die stad omrede die die hollanders 'n houtmuur tussen die twee gedeeltes opgerig het om die Britte uit te hou. Hehe. Die koloniale peste was ook maar erg daardie tyd lyk dit my.

Ek het verder die grote stad verken, en het regtig weereens tot die besef gekom, dalk gebeur dit daagliks met my; van hoe klein die mens regtig is. Dit is opmerklik om te sien hoeveel staatuitvoerings en hoeveel staartkonserte daar is, plek plek sien 'n mens groepe mense wat erens iets probeer uitdruk, iets probeer se met kuns en dans en gebare, watookal. Ek kry die gevoel dat almal maar iets wil se, almal maar hulle opinie wil lig, want: Hulle glo hulle kan en hulle is geregtig daartoe.

Ek het vrydag aand in my dooddrukskoene "waarom ek die pestelensies gekoop het weet nugter alleen" na die Disney Produksie van Mary Poppins in 'n Broadway Teater genaamd die "New Amsterdam Theatre" gaan kyk. Die plek was stampvol uitverkoop en dit was iets besonders. Die munisipaliteit van die stad poog hulle bes om al die kaartjies wat beskikbaar is teen 2:00 die middag teen half prys bekend te stel vir mense om by spesiale kaartjiekantore op Times Square te koop! Wat 'n wonderlike manier om die kunste te bevorder. Die vertoning was skitterend, en dit is moeilik vir my om dit te beskryf omdat die standaard daarvan wereldklas is. Geen detail in enige aspek van die vertoning is afgeskeep nie. Die dekor en die kostuums sowel die spesiale efekte is iets om te aanskou. Iets wat ek nog nooit gesien gebeur het op 'n verhoog nie! Die beligting en die klank is WOW! Ek is baie dankaar dat die Here my die geleentheid gegee het om so iets te kan sien. Waar het ek 'n kaartjie bekom mag jy vra? Wel in ons hotelportaal is daar afslagkaartjies vir die vertonings, en ek het een geneem en by die teater se "box office" self 'n kaartjie gaan koop teen $61.50 met afslag. Dit was duur maar soos hulle hier sal se: Elke Penny werd. As die begroting my dit nog toegelaat het, het ek nog 'n vertoning gaan kyk. Maar een is genoeg om oorweldig mee te word. :-)

Dit lyk nie of NY ooit gaan slaap nie en die Big Apple is regtig 'n stad van enorme proporsies. Ek was gister op na die 86ste vloer van die Empire State gebou, om die stad van daarbo af te besigtig teen $20.00 sjoe! Dit was 'n biekie bewolk maar steeds iets om te beleef en te aanskou. Grootskaalse opknappings en herstelwerk word regdeur die stad gedoen. En reg onder langs die hotel waar ek bly word daar 'n nuwe gebou gebou. Dit is iets om te sien hoe die konstruksiewerk gebeur.

Die planne vir vandag is om 'n Presbeteriaanse kerk te besoek, as ek daar kan kom en as ek die kerk kry. Hehe. Die diens begin 11:00 en ek gaan my bes probeer om dit by te woon. Ek moet net eers die ondergrondse treinstelsel uitpluis. Iets wat ek ook vandag wil gebruik vir die eerste keer!

En dan, as ek kan gaan ek soek. Soek vir ander skoene; want ek kan eerlik maar dit wat ek tans saamgebring het nie verdra nie. Dit is te erg. Hopeloos te erg en maak te seer. :-) As jy dom is moet jy sukkel!

Nou ja. Ek gaan hierdie beposting afsluit en sal later weer iets tik. Ek begin die klein sleutelbordjie van die netbook nou net onder die knie kry! Sjoe

Arrie Warrie, B in Merika

Friday, June 5, 2009

Daar gaan ek toe op weg naar Amerika!

Die vlug rekenenaar skerm se dat dit tans 3:23 am in NY is en ek sit hoog bo in die wolke. Dit is ‘n belewenis! een waarvoor ekndie liewe Heer baie baie dankbaar voor is. Op die vlug skermpie wys die vliegtuig op die kaart dat ons reg oor die erens ietwat in die middel van die atlantiese oseaan is. Daar is nog 4:04 ure se vlieg oor en dan sak ons neer in NY dit is as die Here dit steeds wil. Ek is Christus baie dankbaar vir alles wat Hy uit sy groot genade vir my doen, en alles wat Hy so uitbundig aan my skenk. Dit is so wonderlik om te weet dat selfs hier waar ek 11 604m bo in die eter van die aardwolf is dat God ook daar is. Ek wonder wat sou Dawid geskryf het in sy Psalms as hy geweet het dat die mens eendag deur die kennis van God gaan leer om ‘n masjien te maak wat die mens sal laat vlieg. Die son skyn uit op die horison, en die puntvlerk van die puntvlerk van die Airbus 340-300e waai trots ons vlag.
Daar kom ‘n lied by my op, ‘n ou lied: Op berge en in dale ja oweral is God waar ons ook telke male mag vlieg ook daar is God!
Die vlug is darem nie Tsjoka-Blok vol nie, van JNB na DKR was daar maar 106 van ons aan boord, en op Dakar het daar seker nog so 50-60 passesiers opgeklim. Iets wat ek nie verwag het nie is dat die bemanningslede ook geruil is op Dakar. Ons sit dus nou met ‘n splinternuwe bemanning wat al die fort vir amper 4 ure hou.
Ek kan nie kla nie! Nee inteendeel ek is beindruk, die diens aanboord ons eie lugdiens is goed, voortreflik goed en die hulp is gaaf, flink, en iets om te beleef. Ek is maar ‘n ou groot koffiepot en het al ‘n hele paar bekertjies van die wondermiddel in my gestel in, en uit hehe, en elke keer word dit met liefde sonder skroom gemaak.
Ek weet regtig nie wat om in NY te verwag nie. Ek weet net ek gaan kapot wees as ek daar kom aangesien ek dit nie reg kry om op ‘n vliegtuig te slaap nie! Die sit en slaap ding by my werk net nie! Mensig, die besigheidsklas ouens het dit lekker, hulle se stoelentjies kan omval en verander in kateltjies! Eendag as ek ook groot en ryk is gaan my sitvlak ook op so ‘n kateltjie sit of moet ek nou se le.
Ek sal een van die blyste oukies wees as ek erens in NY al is dit by die lughawe net ‘n stort kan vat. Ek kan eers van vanmiddag af 15:00 in my hotel inboek. Eish! Maar nou ja so is dit dan maar ook. Ek sal van more af dinge doen en beplan, en op ‘n dagtoer gaan.
Dit is lekker om te toer, maar ek mis tog iemand! Ai as my ou kop ook tog net reg was.
Die mense wat oorkant my sit is ‘n redelike jong ouerpaar met 2 kinders, en dit is vir my prentjiemooI om te sien hoe hulle mekaar help en vir mekaar omgee. Dit is erg bedridden dat hulle waralik geheg is aan mekaar, en dat daar tog en so neem ek aan van Christus uit hulle straal.
Een gelukkie het ek darem ook sover, ek sit by die toilette in die laaste ry in die gang en niemand sit langs my nie. So ek het ’n ekstra van als.
Ek is nou moeg getik en sal later weer iets tik. Daar is 34 minute verstreke in my lewe vandat ek hierdie teks begin tik het op die bitter Klein sleutelbord van die NetBook 34 munite wat ek nooit weer sal he nie.
Dankie Here vir al my lewensmunite sover.


Hierdie is sommer 'n paar pics vir teks van my eerste bloginskrywing oppad na Amerika wat ek al op die vliegtuig begin tik het.


Posted by Picasa